Bottermaker se resep…

Bottermaker se resep…

‘n sielStorie deur Annali Swiegers.

Die nuus kom dat daar ‘n virus loop en skree dat ons moet starrag leef, ophou hol en huis toe gaan. Eers dog ek dis net nog ‘n storie wat ‘n onwaarheid-broek aanhet, maar toe raak dit ernstig en ernstiger. En kort voor lank toe is die virus naby en skree kliphard en almal skrik en hol gillend die pad af, party hol huis toe, party hol in mekaar vas en hier en daar is daar een wat amok gaan saai op die plein.

Nou-ja, ek gee nie om vir my huis nie, ek het baie om te doen en al-Een wees is aangenaam vir my. Ek sit nou in my tuin en werk ‘n resep uit, ek maak graag botter van beesmis tye. Dis eintlik salig, die voëltjies is baldadiger as gewoonlik, dis nou van die siele moes binne bly. Ek sit en kyk die skoenlappers wat stuitig in mekaar vasvlieg en giggelend op die liefdesblomme sit en ogies maak vir mekaar.

Maar ja, selfs in die stilte en bly-by-jou-huis-tyd, is daar sowaar ‘n gegil oor my muur.

“Hallóóu!!” skree ‘n siel benoud, anderkant my muur.

Ek sit doodstil en hoop dis nie vir my nie, maar nee, die siel skree nog ‘n keer!

“Hallóóóu! Storieverteller!!! Waar ís jy?” skree die siel weer oor die muur.

Ek staan op en roep terug: “Ag nee man? Wat maak jy buite jou huis? Hoe kan jy my vra waar ek is, jy weet dan ons moet in ons huise bly?”

Die siel gee ‘n snik en ‘n sug en teem voort: “Ek weet maar ek kan dit nie uithou met my eie sigSelwer nie en dis so ‘n skriktyd en dan is daar nog my broek wat so bewe dat ek gedaan is daarvan.”

“Ai Jong? Hoekom bewe jou broek dan, my Ou?”

Die siel praat in ‘n bewerige stem voort: “Want ek het by die virus ‘n broek gekoop, dis ‘n bang-broek! En ek weet niks en niemand wil vir my vertel nie en hoekom en waarom en wanneer tog immers? Dan is daar nog die ellende van anderkant en onweet en seg nou maar net…!”

“Liewe deug my Ou? Waar is jou eie broek? Jy het mos ‘n lieflike glo-broek en wat van die mooie vertrou-broek wat jy nou die dag aangehad het? Trek uit daai bang-broek, gooi weg, mens dra nie sulke klere nie. Jy weet mos ons is nooit alleen nie?”

“Oukei, wag vir my asseblief, ek gaan net gou my glo-broek aantrek, moenie weggaan nie, ek is nog nie klaar geskrik en gebewe nie. Eintlik wil ek inkom maar ek weet ons moet ver van mekaar af asemhaal.”

Ek giggel saggies en sê: “Dis reg skrikSiel, ek sit hier en wag vir jou terwyl ek ‘n botter maak resep bymekaar dink.”

Na ‘n ruk hoor ek hom aangehuppel kom, hy staan op sy tone en loer deur die liefdesblomme en sê: “Hiers ek, ek is terug en sowaar, my glo-broek sit lekker, niks bewerigheid nie. Dankie Storieverteller! Maar nou wil ek asseblief weet van die resep, gaan jy bak en brou?”

“Nee skrikSiel”, seg ek, “Dis ‘n resep vir hoe om in die oomblik te leef en al-Een te wees sonder om bewebroeke te loop staan en koop.”

“Ek luister!” seg die siel.

“Dis eintlik maklik skrikSiel, mens moenie nou staan en loop vooruit skrik nie. Ons weet nie en dis ook oukei, wanneer ons daar kom sal ons weet. En ons het mekaar en die groot Siel is heeltyd by almal, Hy gaan ons mos nie nou los nie, Hy is niks bang vir virusse nie.

“En dan is daar die botter in die beesmis, die persent in alle situasies. Mens moet sit en stilbly, bietjie binnetoe dink en luister. Ons kry nie baie sulke tye nie, meer nog, ons is almal in dieselfde bootjie. Almal het geskrik, almal moes stop en ons weet dat alles gaan verander. Dis die ding wat ons armsalige bang siele die meeste vang. Die on-weet, die on-rus en die on- van alle on-dinge wat ons uit-dink en groter-dink.

“Die groot Siel het ‘n plan, wat aangaan is nie onder Hom uit nie, Hy weet van alles en soos dit vir my lyk, het Hy nou eers gemeen Hy moet ons bietjie uithaal uit die lewe dat die Lewe kan terugkom tot homself. Dan sal Hy ons help om weer terug te leef en dalk het ‘n klomp van ons bietjie meer respek vir die lewe.”

Die siel sug en sê: “Haai dankie Storieverteller, ek voel nou heelwat beter. So, jy seg dit gaan oukei wees, ons sal weer aangaan?”

“Ja skrikSiel, ons sal oukei wees, het jy iets nodig?”

“Nee, nognie, maar dalk hou my kos nie! Maar jy is mos hier? En om die waarheid te sê, ek onthou nou net, ek wil gaan uitvind of my sielmaters oukei is, ek was so skrikkerig dat ek skoon vergeet het om oor hulle te vra. Is jý oukei Storieverteller?”

“Dankie vir vra skrikSiel, ek is doodreg en het genoeg van alles.

“Dis ‘n Wonder tyd, ons moet almal bietjie Wonder!”

2 Comments


  1. Heleen van As

    Fantastiese verhaal met ‘n inspirerende skryfstyl! Dankie!

    Reply
  2. Anna Haasbroek

    Dankie vir die vars inspirerende storietjie. Mooi woordspeling.

    Reply

leave your comment


Leave a Reply to Heleen van As Cancel Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *