Ode vir Cosette
Opvallend troon sy bo alles en almal uit. Halfnaak en stukkend herinner sy my aan ‘n oopgebarste granaat. Die gewone straat in die gewone dorpie roer my ongewoon sedert sy haar verskyning gemaak het. Alles te danke of te wyte aan die nuwe winkelsaak wat deure oopgegooi het met vertoonware en negosiegoed uit alle wêrelddele. Beelde uit die Ooste, silwerware uit Engeland, Franse ameublementjies met fyn dun pootjies, matte uit die Midde Ooste, skilderye met vergulde rame wat my sonder woorde laat, asook sy, die mannekyn …
Elke dag die geskarrel op die winkelstoep. Elke dag die hartstilstand wanneer iemand regvoor haar loop staan en haar bekyk, bewonder. Van gewone mense tot gesiene mense, tot minder gewone mense en nog meer gesiene mense, almal getrou aan die nuuskierigheid so eie, en vir my so kleinwêreld-kosbaarmooi, van die platteland.
Elke dag die boekopmaak in my kop oor ‘n prys vir haar.
Ek soek vir haar ‘n naam hier diep binne in my, vir die mannekynpop van Kennett & Lindsell, Made in England, want wanneer ek haar gaan haal wil ek haar op haar naam groet. Saans wanneer alles stil is wonder ek oor haar. Sy loop al jare oor die wêreld, vanaf die 1800’s sê die winkel se verkoopvrou, haar naam is Byerina, vir my. Ons is op voornaamterme, want ek is elke dag op die stoep aan te wik en aan te weeg. Ek lê wakker en wonder of sy môre nog daar gaan wees, of sy vir my gaan wag? Gister-middag het ek gehoor daar is nog ‘n paar “odd ones” wat dink sy is ‘n “beauty”. Ek terg die noodlot om haar nie net te gaan haal nie, ek wil weet sy het net vir my gewag.
En sy het vir my gewag. Sy woon nou by ons in die Franse gastekamer met die naam French Bouquet.
Wat is dit wat haar so bitter-soet-mooi vir my maak wonder ek? Is sy dalk ‘n spieëlbeeld, ‘n eggo, of die oerkreet, van my eie-ek? Die Victoriaanse bad in die Franse kamer is my afsluit van die dag ritueel gunsteling plek. Vanaand toe ek wegdommel in die loom water en die salige nagstilte van ‘n plattelande dorpie, wek ‘n sagte hees stemmetjie my. Verbeel ek my, kan dit wees, ek spits my ore en luister.
Dit was Madam Mantel wat haar met ‘n groot skip laat kom het uit Engeland. Sy was toegedraai in sagte sneespapier wat na neroli geruik het, en toe in ‘n linnesak toegebind. Op die sak was twee pragtige geboorduurde letters, onthou sy, K&L, in goue sy-gare. Dan eers is sy vasgespyker in ‘n houtkrat en het sy wiegende oor die Atlantiese oseaan gereis na haar eerst tuiste, ‘n apartment naby die Champs-Elysées. Sy vertel vir my, was dit nie vir die vertroostende nerolireuk van bloeisel en spesery nie, het sy versmoor!
Madam Mantel was enkel en alleen, en saans het sy op haar chaise lounge gesit met twee koppies tee, een vir haar en een vir haar geliefde mannekyn. In die agtergrond op die draaitafel het die mooiste barok musiek gespeel, haar gunsteling komponis was Jacques Champion de Chambonnières.
Terwyl ek na haar storie luister, het ek nie meer die gebarstheid van die granaat gesien nie, maar slegs die karmosyn van die pitte, die soetheid daarvan in my mond geproe …
“Madam het alewig aan ‘n macaron geknibbel wanneer sy tee drink. Elke dag vars gekoop by ‘n patisserie verder af in die keisteenstraatjie. Die venster in hierdie vertrek was altyd effens oopgestoot, en die briesie wat van die Seine se kant daardeur gewaai het, het die kantgordyn, “la dentelle francaise”, saggies teen my skouers aangewaai. Dit was die mooiste oomblik van die dag, wanneer ons twee tot ruste kom. Die oorvol vertrek wat na tee ruik, en die son wat ons toevou in ‘n amber tint. Sy het haar skoene uitgeskop en opgekrul op die bank gesit, en sommerso na nêrens gestaar, en dan was ek altyd bly sy het vir my gehad, want saam was ons nooit eensaam nie.”
Gister-aand vroetel ek sommer onnodig in die Franse kamer waar Cosette nou woon, hoopvol vir nog ‘n storie, maar sy praat nie. Ek tap toe ‘n bad en brand kerse. Terwyl ek vir die kerse se flikkerskadus teen die muur kyk hoor ek iets, ‘n meesleurende klank soos wind in ‘n bloekombos, ‘n aangrypende melodie.
“Die bruidstabberds se pas was opwindend” sug die bloekombosklanke uit Cosette se stukkende poplyfie. “Maar eintlik was dit Mademoiselle Rosette se nagrokke wat ek die graagte wou aanpas. Sy het geweier om in sy, katoen of linne kleede te slaap, sy het fluweel verkies. Die sagste lapgoed, die mooiste kleure, smaraggroen, purperpers, silwerwit.” (Cosette se stem raak opgewonde, styg hoër net soos wind wat al hoe sterker waai in die bloekkombos oorkant ons huis.) “Sy het skelm gerook in Madam Mantel se apartment, tot Madam se kamtige ontsteltenis. Sy moes dan die vensterraam hoog opskuif en die rook na buite blaas. Dan het sy halflyf na buite oor die vensterraam gehang en haar fraai fyn onderrokkie en mooiste dun enkels en parmantige steweltjies het vertoon! Dit was altyd my mooiste mooi, mooierder as die amberkombers van die laatmiddagson.”
Ek raak wakker in ‘n yskou bad, die nag is stil, die sterre knipper blinkoog in die gitswart naghemel. Ek bibber verby Cosette waar sy, ten spyte van haar geskeurde en gebreekte poplyfie waardig, dalk effens hoogmoedig, in die hoek staan. In hierdie “teenwoordigheid” van haar stuit ek, en laat my handdoek saggies val. Ek wys vir haar sy is nie alleen gebreek en gekneus nie. Ek ontbloot my geheim aan haar, ek wil haar hiermee troos. “Cosette”, sê ek vir haar, “ons diepste mooi kom juis vanuit hierdie heilige plek van naakte gebrokenheid. Ek gaan vir ons tee maak dan vertel ek vir jou ‘n iets wat jy dalk nie geweet het nie.”
Ek maak tee in my mooiste Sevrés porselein koppies, trek my turquoise fluweelrok aan, en probeer om my stem ook te laat sing soos die wind in die bloekombos, net soos wanneer Cosette vir my stories vertel. “Kintsukuroi” sing en dramaties hoog in ‘n paar oktawe hoër as my eie mezzosopraan stem, net om haar aandag te kry, want dit is na middernag en sy is waarskynlik vaak. Toe ek voel sy is wakker, vertel ek vir haar van die wonderlike kuns genaamd Kintsukuroi. Aan die einde van die storie bly ek vir ‘n heilige oomblik stil en praat dan verder …
“Cosette, my mooie Cosette, ek wou jou huis toe bring, soos Saartjie Baardman van anderdag se hartseer. Ek wil jou pluiens bymekaarmaak met teer hande, jou vodde herstel met goud. Die dag toe ek jou sien het ek geweet dis my edelwerk vir vanjaar se lente. Om jou, soos die oeroue Japanese herstelwerk aan gebreekte ware, te herstel, sodat jy weer, en nog meer waardevol kan wees as die dag toe jy saggies toegedraai was in sneespapier wat na neroli geruik het, op jou maagdetog na die studio van Madam Mantel.
Hier sal jy veilg wees solank jy hier woon, hier sal jy altoos herinner word dat verwerping, vernedering, ontrouheid, geweeg en te lig bevind, al die stampe en stote van die lewe hier op aarde, nie noodwendig sieledood inhou nie, maar wel ‘n besondere skoonheid. Ek wil jou uitstal en vereer Cosette. Jy sal hier nie meer speldtjies teen jou poplyfie voel prik nie. Jy sal nooit weer natreën nie. Solank as ek leef nooit weer tussen negosiegoed op ‘n tweedehandse-winkelstoep hoef te staan of in die donker wiegende buik van ‘n skip amper versmoor nie. Jy is my ode aan die Goddelike skoonheid wat uit gebrokenheid gebore word.
Dankie dat jy elke dag vir my woordloos sing, die allerlieflike lied van Leonard Cohen. “Ring the bells that can still ring, forget your perfect offering, there is a crack in everything, that is how the light gets in.”
Rustige nag skone Cosette Kintsukuroi …

Moira-Ann Seal Odendaal
Developed by Evolution Media House